Deur Erich Schoeman (Kliniese Sielkundige)
Sake van die Siel (sakevdsiel.org) 2 tot 3 minute se lees Wanneer paartjies oor hulle behoeftes in die huwelik gesels (sien die artikel 10 stappe om oor behoeftes in die huwelike te praat), is daar 10 stappe wat gevolg kan word om ‘n effektiewe gesprek te verseker. Ons kan egter baie leer (én heelwat moeite en konflik gespaar bly) deur te gaan kyk na wat om NIE te doen nie. Hier volg ‘n satiriese kykie na… 13 wenke vir wrywing: 1. Wees totaal afhanklik van jou maat en verwag van hom/haar om ál jou emosionele behoeftes te vervul. Drapeer jouself soos ‘n swaar, nat kombers oor jou wederhelf en kyk hoe vinnig hy/sy gedreineer word. Sodoende hoef jy nooit verantwoordelikheid te aanvaar en jou geloof in God te ontwikkel nie. Jy kan net van verhouding tot verhouding spring. 2. Aanvaar dat jou maat jou behoeftes ken sonder dat jy dit hoef te sê. Maak dit moeilik vir die ander persoon. Hy/sy is immers veronderstel om tussen die reëls te kan lees... 3. Beskuldig hom dan as hy dit nie reg doen nie, want hy “sou geweet het as hy regtig omgegee het”. Speel op haar gevoelens met iets soos: “Teen dié tyd moes jy al geweet het”. 4. Hou jou gevoelens vir jouself en ontplof dan op ‘n dag uit die bloute. Benut die geleentheid sommer ook om jou maat van selfsug te beskuldig. Dit sal hom oorweldig laat voel en magteloos om jou behoeftes te vervul. 5. Wees vaag oor jou behoeftes en sê goed soos: “Ek weet nie, dalk ‘n fliek of iets.” Hou hom aan die raai. 6. Bevredig slegs jou maat se behoeftes en swyg soos die graf oor wat jy wil hê. Gee altyd toe aan sy versoeke en moenie jou begeertes bespreek nie. Dit sal jou leeg en neerslagtig laat voel en kan tot baie wrewel lei. 7. Eis dat jou behoeftes vervul word en beheer jou maat deur voor te skryf wat sy mag en nie mag doen nie. Gee opdragte en maak jou stem dik: “Vergeet dit. Jy sal nie saam met jou vriendinne uitgaan nie. Jy sal by die huis bly en my help!” Dit sal jou laat sterk voel, die balans ontwrig en die veiligheid in die verhouding kelder. 8. Kritiseer jou maat se karakter met etikette en beledigings. “Jy vra nooit wat ék wil hê nie; jy is ‘n selfsugtige narsissis!” “Jy ruim nooit op as jy vuilgemaak het nie. Jou onbedagsame vark.” Vryf dit in. 9. Manipuleer jou maat. Kerm, kla en laat hom skuldig voel. “Hoe kan jy saam met jou vriende wil uitgaan as jy nooit iets saam met my doen nie? Is ek nie belangrik vir jou nie?” 10. Wees onredelik. Vra meer as wat jou maat kan gee. Wees rigied en weier om hom tegemoet te kom. “Ek kan net op Vrydae seks hê.” 11. Skiet alles af wat jou maat van jou vra. Gee haar opdraande. Motiveer jou behoeftes met sterk argumente en wees driftig daaroor. Dit sal ‘n goeie skoot wrywing veroorsaak en jy sal die argument wen - al gaan jou huwelik moontlik in die slag bly. 12. Ignoreer jou maat. Doen net wat jy wil. Straf hom met stilstuipe en deur te weier om te doen waarvan hy hou. Hy sal gefrustreerd raak en hom vir jou vererg. Hy sal jou dalk selfs verwens. Dan is julle gelyk. 13. Tart haar deur spesifiek te doen waarvan sy nie hou nie. Maak dit duidelik dat jy nie omgee nie. Betaal haar terug vir al die seerkry en verwaarlosing. Hopelik maak jy nie soveel van hierdie foute soos ek nie. Gaan kyk gerus na my ander artikel, "10 stappe om oor behoeftes in die huwelik te praat”. Sterkte met die vervulling van jou maat se behoeftes!
0 Comments
Deur Erich Schoeman (kliniese sielkundige), Sake van die Siel (sakevdsiel.org)
3 tot 4 minute se lees Verhoudings tussen man en vrou gaan in die eerste plek oor behoeftes. Behoeftes aan liefde, toegeneentheid, seks, hulp met kinders, bemoediging, ‘n luisterende oor, ens. Behoeftes wat nie vervul word nie of halfhartig vervul word, lei tot allerhande soorte dilemmas. Een van die redes waarom ons trou, is omdat ek iets in ‘n ander persoon bewonder wat by my ontbreek. Ons ervaar dat iemand vir ons lief is en omgee en hoop dat dit so sal bly. Maar namate ons loopbane ontwikkel en ons met ‘n gesin begin, raak dit al hoe moeiliker om ons maat se behoeftes te vervul. Buiten jou maat se behoeftes, het jy jou hande vol met eise van die werk, kinders, familie en die lewe oor die algemeen. Hierdie dinge eis hul tol en kan maak dat die verhouding met ons maat skipbreuk ly terwyl ons “net deur hierdie tyd probeer kom”. Dit is ‘n resep vir ‘n ongelukkige huwelik en as dit te lank voortduur, kan dit tot buit-egtelike verhoudings of selfs egskeiding lei. As paartjie is dut dus noodsaaklik dat julle praat oor wat julle van mekaar nodig het. Help jou maat deur hom/haar te vertel wat jy nodig het, wanneer jy dit nodig het en selfs waarom jy dit nodig het. Hier is 10 stappe om met jou maat oor jou behoeftes te praat: 1. Wie het ek nodig? Is jy dalk oorafhanklik van jou maat vir die vervulling van jou emosionele behoeftes? Jou maat kan nie die enigste persoon wees wat jou menswees bevestig nie. Jy is ontwerp om van God afhanklik te wees. Hy is die Bron van jou liefde, bevestiging, selfwaarde, bemoediging en krag. Dit is waarom Jesus sê dat ons niks sonder Hom kan doen nie (Joh. 15:5). Jou maat is soms daar vir jou, maar jy kan áltyd op God reken (Heb. 13:5). 2. Wat het ek nodig? Dit is baie belangrik dat jy spesifiek is oor wát jy van jou maat nodig het. Jy sal op verskillende tye verskillende behoeftes hê. Identifiseer wat op hierdie oomblik vir jou belangrik is, bv. Het ek nodig dat my maat my help om die kinders te bad? Of het ek ‘n halfuur se alleentyd nodig om te herlaai? 3. Kies ‘n tyd Tydsberekening is belangrik. As jy jou behoefte aan seks om 18:30 uitspreek wanneer die kinders die huis op horings het en jou vrou moeg en oorweldig is, gaan jy dalk nie die gewenste reaksie kry nie. Wees proaktief en begin vroeër die dag. Of roep jou maat opsy en vra vir ‘n paar oomblikke van sy/haar tyd. 4. Wat het my maat nodig? As jy jou maat vra wat hy/sy van jóú nodig het, wys dit dat jy omgee en nie net oor jou eie belange begaan is nie. Vra haar direk wat jy kan doen om haar geliefd te laat voel en doen dit wat jy reeds weet. 5. Wees spesifiek Om vir jou maat te sê dat hy vir jou moet liefde gee is soos om vir ‘n kelner in ‘n restaurant te sê dat jy wil kos hê. Dit help om spesifiek te wees. Jy kan iets sê soos: “Daar is iets waaroor ek graag met jou wil praat. Sal jy my kans gee om dit met jou te deel en dan vir my sê wat jou gevoel oor die saak is?” 6. Vra, moenie net sê nie Sommige mense verval in die lelike gewoonte om hul maat te hiet en gebied, te blameer of te neul. Dit sal jou maat net frustreer en emosionele afstand tussen julle skep. Vra eerder mooi of rig ‘n vriendelike versoek. 7. Wen-wen Ideaal gesproke wil ons onsself onvoorwaardelik aan ons maat gee en hom/haar dien soos die Here van ons verwag. Om op die lange duur hierin te slaag, moet ons wen-wen situasies skep waar albei maats se behoeftes vervul word. As albei daarop ingestel is om die ander persoon lief te hê deur sy/haar behoeftes te vervul en bereid is om mekaar tegemoet te kom, sal albei huweliksbevrediging smaak. 8. Wees die held Soms sal jy die “held” in die verhouding wees en ten volle aan jou maat toegee. Jy sal jou geliefde se behoeftes ten koste van jouself vervul. Dit sal hom/haar geliefd laat voel en sal die verhouding op die lange duur versterk. 9. Maak ‘n afspraak of tref ‘n reëling Wanneer julle oor jul behoeftes praat, behoort julle ook ‘n tyd vas te maak om daardie behoeftes te vervul. Julle kan spesifieke tye afspreek of reëlings tref, bv. “Ons kan vanaand negeuur intiem wees”. Of “Op Dinsdae en Donderdae sal ek die kinders bad”. 10. Bly in voeling Maak ‘n gewoonte daarvan om daagliks by mekaar “in te loer”. Dit verseker dat julle in voeling met mekaar bly en dat behoeftes nie lank onvervul bly nie. Dit sal julle ook nader aan mekaar laat voel. Steel tien minute voor of direk na werk en vra mekaar: “Wat is jou behoeftes vir vanaand of die naweek?” Wanneer julle hierdie stappe met ‘n nederige en liefdevolle gesindheid volg, sal julle nader aan mekaar groei en saam nuwe dinge ontdek. En deur wysheid en krag uit die Here put, sal julle leer om mekaar op nuwe maniere lief te hê. |
Ontvang gereelde nuus of inligtingLees gerus die artikels wat reeds beskikbaar is en deel (share) asseblief die skakels met ander mense. Ek gaan gereeld `n artikel skryf oor die tema wat op daardie stadium op die T.V. program uitgesaai word.
Argief
December 2020
Kategorie |