Leer vandag hoe om stres te hanteer en na jouself te kyk. Hier is praktiese raad teen uitbranding. Ek kyk uit op die groen bosveld bome, blou lug en wit wolke terwyl ek die artikel skryf. In die agtergrond kwetter `n tarentaal en roep `n visarend. Die son se strale skyn op die groen blare. Dit is`n weeksdag en ek dra my strandplakkies. My siel is rustig en gelukkig. Ek sug van verligting en skiet `n dankgebed na bo. Maar dit was nie altyd so nie. My lewe was eens `n gejaag, elke dag propvol afsprake by my kliniese sielkunde praktyk. Ek het van vroeg tot laat van myself gegee sonder om behoorlik my tenk weer te vul. En ek het leeggeloop. So leeg dat ek by selfmoordgedagtes gedraai het. Iets moes verander. Jesus raak my aan In my desperate toestand het ek uitgeroep na die Here. Een oggend terwyl ek moeg en oorlaai by Hom sit, ervaar ek hoe Hy my aanraak en my genees. My liggaam het geruk van al die krag wat deur my vloei. Handelinge 1:8 het vir my waar geword – ‘En julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom’. 'n Nuwe lewe
Hierna begin die Here my lewe uitsorteer. Hy wys my toe hoe om die lewe se eise makliker te hanteer. Dit het veroorsaak dat ek minder gespanne en meer uitgerus is. As jy nou reeds aan die begin van die nuwe jaar hierdie beginsels kan toepas, sal jy heel moontlik nie uitgebrand wees teen Novembermaand nie. Hier is `n paar van die beginsels wat Hy my geleer het: 1 Stel Hom eerste Hy lei my om Hom weer as eerste prioriteit te stel en Sy wil te soek in alles wat ek doen. Dit het `n groot las van my afgehaal. Ek hoef toe nie meer so te jaag agter geld en materiële welvaart aan nie. Om my lewe weer aan Hom te wy het opnuut doel en betekenis vir my gegee. Die Here belowe mos in Matteus 6: 24-33 om vir ons te sorg. Hy sê as ons Sy koninkryk eerste stel sal Hy ‘al hierdie dinge’ vir ons gee. Dit is álles wat ons nodig het. Dit het vir my baie beteken. Nou kan ek rus daarin dat Hy n plan het vir my sal sorg. Dit is mos hoe my kinders maak! 2 Neem jou laste daagliks na Hom Wanneer ek bekommernisse het en self planne wil maak, hoor ek hoe die Here se beloftes in my gedagtes eggo – ‘God is jou Pappa en Hy sorg vir jou’. Hy gee aan ons `n uitnodiging om ons daaglikse stres na Hom te neem. Dit doen ons veral in die tyd wat ons alleen saam met Hom spandeer. Matt 11: 28 - 29 (NLV) “Kom na My toe, julle almal wat moeg is en swaar laste moet dra, en Ek sal julle lewens verkwik. Neem My juk op julle skouers. Kom leer by My, want Ek is sag en nederig van hart, en julle sal rus en nuwe moed vir julle lewe kry” Ek leer dat Hy in beheer van alles is, selfs die klein dinge wat ek my oor bekommer. Net soos Hy moeite doen om `n skulpie te vorm en in te kleur, wat tien teen een nooit gesien word deur enigeen nie, net so stel Hy belang in my. Hy wil ons lewens inkleur. Ons het dus nodig om Hom eerste te stel in ons prioriteite en om Hom op te soek as ons fondasie en bron van krag vir elke dag. 3 Beplan jou jaar Meeste van ons jaag deur die jaar en kom eers teen Augustus agter dat die tyd gevlieg het en ons nie by die helfte van die dinge uitgekom het wat ons onself voorgeneem het om te doen nie. Dit bring gewoonlik teleurstelling en soms frustrasie mee. As jy jou jaar vooruit beplan gee jy jouself kans om jou ritme te bepaal. Lekker vakansies benodig besprekings en dit moet soms al `n jaar vooruit gedoen word. Toe ek begin om my vakansies vooruit te beplan het ek soveel meer gehad om na uit te sien en was ek ook betyds om reuse spesiale aanbiedinge te kon kry. Beplanning bring beheer. Dit stel jou in staat om tot `n mate te kan dikteer wat in jou lewe gaan gebeur. Op sy beurt verlig dit die spanning van onsekerheid en gee jou ook meer duidelikheid van wat om te verwag. 4 Ontwikkel ‘n ritme As jy mooi oplet sal jy agterkom dat die lewe gevul is met ritme – voëltjies wat sing, water wat kabbel oor klippe, seisoene wat draai - alles aanduidings dat ons ook in `n ritme moet lewe. Met ritme bedoel ek jaarlikse, kwartaallikse, maandelikse, weeklikse en daaglikse werk en ruspatrone. Jy kan nie vir maande aaneen op `n hoë tempo funksioneer nie. As iemand viool sou speel en die heeltyd die hoogste note speel, sal dit in Genis van Koöperasie Stories se woorde klink ‘soos `n dier in pyn Veldtie, `n dier in pyn!’. Jou menslikheid vereis dat jy elke dag `n afskakeltyd het. Elke week `n lekker ding of twee doen. Elke maand in die natuur kom. Elke kwartaal `n wegbreek het. Elke jaar `n paar weke van stilte en rus het. Nie eers jou stofsuier kan vir `n week aaneen werk nie. As nie eens`n masjien dit kan doen nie, wat dan van jou as mens? 5 Wikkel daardie lyf Tydens my tye van oorwerk het ek min aandag aan my liggaam gegee. Deesdae oefen ek ten minste `n halfuur per dag. Dit verfris my liggaam en hou dit gesond. Julle ken die uitdrukking “`n Gesonde liggaam huisves `n gesonde gees”! Daar is nog baie om te sê, maar as opsomming, maak die keuse om beheer te neem van jou dagboek. Vra Hom om jou te help om grense te stel en die lewe te kies!
1 Comment
|
Ontvang gereelde nuus of inligtingLees gerus die artikels wat reeds beskikbaar is en deel (share) asseblief die skakels met ander mense. Ek gaan gereeld `n artikel skryf oor die tema wat op daardie stadium op die T.V. program uitgesaai word.
Argief
December 2020
Kategorie |