Hoe om 'n Kliniese Sielkundige en tegelykertyd 'n Christen te wees, was vir my 'n lang leerkurwe. Soms was dit 'n verwarrende en teenstrydige ervaring. Tydens hierdie proses het ek deur die doolhof van Sielkunde gewerk en 'n Bybelse raamwerk daarby probeer pas. Die doel was om mense te verstaan en te help. Sodoende het ek `n passie en miskien selfs `n gawe ontdek om dit wat ek geleer het aan ander oor te dra.
Ek het gevind dat die een tot een konsultasies met kliënte by my kliniese praktyk kragtig gewerk het, maar slegs beperk was tot `n handjie vol mense. Ek wou graag die wyer publiek ook bereik en het bewus geword van die behoefte in gemeenskappe om kennis te dra van die sielkunde. Die droom was ook om hierdie kennis bekostigbaar beskikbaar te stel. Sodoende het die nie-winsgewende organisasie, Sake van die Siel of Matters of the Soul, sy ontstaan gekry. My vrou Elsie is 'n wonderlike lewensmaat en deel met my die lewe se wel en weë. Ons twee pragtige kinders, Amelia en Benjemin, hou die lewe eg en opwindend! Die probleme van die lewe dwing my op my knieë, waar ek eintlik die veiligste is. My verhouding met die Here Jesus Christus is die bron van waaruit dit alles vloei, waar ek waarlik lewe vind. |